
To read this article online go to:
http://www.news24.com:80/Beeld/Mpumalanga/0,,3-2034_2410968,00.html
Sterk
Gert wen groot
Oct 16 2008 04:51:13:763PM - (SA)
|

Gert Scheepers het hierdie nuwe
speelding met sy kragtige arms
losgeslaan. Foto: Arisja Jacobs |
Arisja Jacobs
Secunda. – Op die oog af is Gert Scheepers (28) taamlik groot, maar daar
is geen wilde bultende spiere wat dié man se ware krag verklik nie.
Eers as hy agter ’n armdruk?tafel inskuif, besef ’n mens hoekom hy reeds
die afgelope ses jaar die Suid-Afrikaanse swaargewig-armdrukkampioen in
die regterarm-afdeling vir 110+ kg is.
Gert het onlangs die amateurarena agtergelaat en ding nou net in die
professionele afdeling mee. Voorheen het die medaljes ingerol, maar nou
is dit prysgeld. Sy nuutste oorwinning in Klerksdorp het vir hom ’n
Suzuki Cruiser 800 cc-motorfiets in sy oprit besorg.
Hy het dié droomspeelding tydens ’n armdrukkampioenskap op 27 September
gewen.
Gert het in 2001 in die armdrukwêreld betrokke geraak toe vriende hom
aangemoedig het om vir die grap aan ’n kompetisie by Graceland in
Secunda deel te neem. Hy het een na die ander teenstander geklop en was
binne maande die Suid-Afrikaanse kam?pioen.
Dié gewese vragmotorbestuurder wat nou as elektrisiën opgelei word, het
ook aan verskeie wêreldkampioenskappe in die linker- en
regterhandafdelings deelgeneem. Hy is onder die toptien armdrukkers in
die wêreld.
Hy beskryf homself as ’n rustige ou wat graag eerder help as wat hy ’n
breker wil wees. Maar tog is hy taai en kry pyn hom nie onder nie.
Gert het in 2006 in ’n ernstige motorongeluk sy regterskouer en rug op
twee plekke gebreek, en sy linkerknie en nek beseer, maar was slegs vyf
maande later weer in die kompetisiearena om sy SA titel suksesvol teen
Armand du Toit in Brakpan te verdedig.
“Armdruk gaan oor tegniek, hoe goed jy jou opponent kan opsom en sy
swakhede lees, jou ingesteldheid en hoe intimiderend jy kan wees. Brute
krag is nie altyd ’n versekering dat jy sal wen nie,” het Gert gesê.
“Daarom kan selfs fyngeboude vroue kampioene word.”
Gert se vrou, Schnelna, is ’n bewys hiervan. “Die persepsie dat alle
vroue-armdrukkers onverfynde, geharde tawwe Tienies is, is geensins waar
nie.”
Hy beskou moderne armdrukkers as atlete wat gefokus is. “Armdruk het wel
in kroeë ontstaan, maar vandag is ons nie ’n klomp kroegvlieë nie. Ons
is georganiseerd en streng internasionale reëls geld. Ons is ernstig om
ons sport te bevorder en om dit eendag as ’n Olimpiese sportsoort erken
te kry.”
Twee weke voor ’n kompetisie begin hy reeds aan sy ingesteldheid werk.
“Dan oefen ek nie, maar maak seker my spiere rus en ek kry genoeg slaap.”
Gert se houding jeens die sport het so ’n indruk op die mense rondom hom
gemaak dat altesame tien van sy familielede ook by armdruk betrokke
geraak het.
“Dalk is dit maar in die gene?” het hy geskerts. Sy broer, Ben, is een
van net twee internasionale skeidsregters in die land. Twee van sy neefs
is ook Suid-Afrikaanse kam?pioene. En sy suster, Annamarie Trollip, is
sekerlik sy grootste bewonderaar.